my ouma is vanoggend oorlede. my ma sê my vroegoggend nadat sy die oproep van HH hospitaal gekry het. ek’s deur die slaap en dink sy lag soos gewoonlik vroegoggend by my kamerdeur oor iets wat die kat gedoen het, dan kom ek agter deur die slaperigheid dat sy snik.
my ma, godfrey & ek sit vir ure by haar lyk in die saal voordat die begrafnis ondernemer kom. my sister & haar kêrel slaap by die huis – ons kon hulle nie wakker kry nie na hulle heelnag partytjie: gister was ricardo se verjaarsdag. die verkeer oppad na die hospital hou almal op vanwee ‘n musiekkonsert op ‘n naby plaas. die mense rondom sê sy het rustig gegaan. sy lyk rustig. dit lyk asof sy nog asemhaal. ‘n jong xhosa kamerhelp – dieselfde een vir wie my ma by ons laaste besoek vir koffie gevra het - gee vir ons koffie.
dis vreemd maar my ouma het altyd die laaste paar jaar gekla dat die huis vol stof is, al was dit silwerskoon. die laaste paar dae is daar stof oor alles van al die gebouery.
namiddag besoek yvonne; let (my ma se niggie en ouma se naam genoot - aletta - en peetkind); haar dogter, carmen; natasha; melanie; alvano & eunett. godfrey bedien almal soos in ‘n vyfster hotel.
No comments:
Post a Comment